6 boeke voor ek hier was en wat hulle van my voorspel

‘Ek’t gedink daar sou meer wees,’ sê een van my oudste vriende. Hy staan voor my boekrak en kyk na al my boeke.

‘Hoe nou?’

‘Nee, ek sê maar net. Ek’t gedink jy’t al meer as dit gelees.’

Ek weet nie mooi hoe om dit op te neem nie. Hy bedoel dit seker as ‘n kompliment, maar dit voel nog steeds soos ‘n bedekte belediging vir my. Asof daar iewers ‘n ooglopende gat in my opvoeding is. En dit na jare se swoeg en sweet om iets van myself te maak, meestal met die hulp van boeke.

‘Daar’s nog baie ander in biblioteke regoor Gauteng,’ brom ek terwyl ek die tee skink. ‘Ek besit nie elke boek wat ek nog ooit gelees het nie.’

Hy hoor my nie. Hy tuur net na die bundels, trek sy vinger oor een van die rakke en loer ingedagte na sy stowwerige vinger. ‘Mens kan baie van iemand sê deur na die toestand van sy boekrak te kyk.’

‘Ellen stof net af as ek haar vra om dit te doen,’ kap ek terug. ‘Ek dra eerder gestrykte klere as om my boekrak in orde te hou.’

‘Nie dit nie, domkop,’ lag hy. ‘Jou leesstof.’

Later toe hy weg is, staan ek self voor my wanordelike rakke en bekyk myself in boeke. Toe soek ek die oudstes van die oues uit, die’s voor ek nog hier was. En jou wragtig! Boek na boek voorspel sowaar iets van my. Hulle kyk op onverwagse maniere vooruit na die mens wat nog moes kom.

1919 – Gedigte van A.D. Keet, Zesde Druk

My heel oudste boek is ‘n nederige, blou digbundeltjie wat duidelik beter dae geken het. Dit val omtrent uitmekaar toe ek dit versigtig van agter ‘n ry woordeboeke uitvis. Ek is verbaas, want dis nie die boek wat ek gedink het die oudste in my versameling sou wees nie. Keet is ook hoegenaamd nie my gunsteling digter nie, dit moet ek bysê. Ek het moderne smaak as dit by Afrikaanse digters kom. Mense soos Antjie Krog en Loftus Marais praat meer my taal. Die boekie is ‘n obskure erfstuk van my Oupa Lieb en dateer uit die dae toe hy relatief laat in sy lewe begin onderwys swot het, na ‘n jongmansberoep op die spoorweë. Oupa Lieb het eers treinkaartjies geknip voor hy onnie geword het en was altyd vol stories oor die lawwighede wat hulle uit verveeldheid met die arme passasiers aangevang het. Ek wonder wat Oupa van A.D. Keet gedink het.

Voorin die boekie, op die eerste witgeel bladsy, is daar ‘n naam in potlood aangestip. Anna Steenkamp. Ek weet nie wie Anna was of hoekom haar naam daar staan nie. Dalk ‘n vorige eienaar, voor Oupa nog. (Hy’t nie geld gehad vir nuwe boeke nie, hy moes maar leen of tweedehands koop.) Anna se handskrif is netjies en effens kinderlik. ‘n Skooldogter? Onderstebo op dieselfde bladsy is daar nog ‘n inskripsie: Te leurgesteld. ‘n Spelfout. Anna skryf verder verskeie notas by Keet se verse, meestal in mooi volsinne, haar insigte, ontledings, en hier en daar net ‘n enkele woord. Keet skryf nou weer patriotiese verse in die styl van die dag. Die een na die ander val letterlik ‘Vir volk en vaderland’ uit sy pen. Kort, bondige versreëls met geforseerde rympatrone skryf hy, maar ek herken nie een van sy gedigte nie. Ek soek hom later in my Groot Verseboek op, maar ook daar lyk sy werk vir my onbekend. Die omie is in 1972 oorlede, lees ek ten einde laaste, twee jaar voor ek daar was. In God sy rus.

Agter in die boekie, op die laaste skoon blady, is dit weer Anna aan die woord. ‘Ons,’ skryf sy drie maal op verskillende plekke, klein, asof sy oefen. Ons. Ons. Ons.

1928 – Drama en toneel in Suid-Afrika, Deel 1: 1652-1855, F. C. L. Bosman

Dis die boek wat ek gedink het die oudste op my rak sou wees, maar toe nie was nie. Dis glo iets werd, verstaan ek, ‘n stuk skaars Afrikana. (Ek het dit al op Bid or Buy opgesoek.) Hierdie heftige ou nommer het ek by ‘n oom van my geskenk gekry, my oupa se broer, Oom Gert. Die’s ook al lankal oorlede. Oom Gerrie het soos ‘n skoorsteen gerook en was so slim soos die houtjie van die galg. Hy’t gehoor ek was van plan om teen wil en dank by Tuks te gaan Drama swot en toe gee hy maar vir my die boek . Dalk sou dit iewers help. Dit het uit sy eie studentedae gekom: hy’t deels tale geswot, nie Drama nie.

Ek sal nooit vergeet hoe diep beïndruk die nimlike Carel Trichardt die dag was toe ek hom sê ek het sowaar my eie kopie van dié dikke geskiedenis nie. Ons het by hom Toneelgeskiedenis aan die Dramadepartement UP klasgedraf. Die ander studente moes omtrent vuisslaan om die biblioteek se enigste kopie onder mekaar te rantsoeneer om opstelle vir Oom Carel na te vors en op te skryf.

Dis ‘n pynlike boek. Dit was pynlike navorsing. Ek was nog nooit goed met datums nie.

1938 – Die F.A.K. Volksangbundel, saamgestel deur Dr Hugo Gutsche M.A., W. J. du P. Erlank, B.A. HON, en S. H. Eyssen B.A. … in daardie orde

Opgedress in oranje, blanje, blou, met die ou staatswapen de lot. Tannie Evita Bezuidenhout sou trots wees. Handhaaf en bou, word ons beveel.

Dié een het ek later by ‘n tante van my geërf. Haar naam staan ook nog voorin: Mej. Hester Olivier, in fênsie krulle. Of Ousus, soos ons haar geken het. Sy was Ouma Bets se oudste suster, oujongnooi vir lank voor sy uitendelik getroud is en wat toenterdae nog in Long Straat 52 Germiston gewoon het. Haar adres staan ook nog daar.

Ek sal nooit vergeet die dag toe ek in Boksburg op Laerskool Westwood se verhoog gestaan het en Langenhoven se ‘Die Stem’ vir ‘n voordragkompetisie moes opsê nie. Ek het net tot by die derde versreël gekom en toe’s ek die woorde kwyt. ‘Red nou ‘n nasie!’ het Juffrou Joubert, die kunsjuffrou, gekla toe ek drie keer weer van voor af begin en nog steeds nie verder kom nie.  Maar die woorde van Die Vlaglied ken ek tot vandag toe nog uit my kop. Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra: Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika? Ai, mens. Hoe’t dinge darem nie verander nie. (Nou’t ek daai dêm wysie vir die res van die dag in my kop.)

1947 – Versamelde Gedigte, Eugene Marais

Dié ou bundel het ek eendag self by ‘n handelaar van tweedehandse boeke in Pretoria aangeskaf, ek dink uit pure nostalgie. ‘Die dans van die reën’ was een van ons voorgeskrewe gedigte by die Hoërskool Brandwag in Benoni. Juffrou Magdul van Tonder – ‘n oujongnooi wat in die skoot gelê is om Afrikaans te gee – het altyd voor in die snikhete, bedompige klaskamer gestaan en ringe met haar hande gemaak  om vir ons die sirkelmotief in Kringe in ‘n Bos te beduie. Met dié gedig het sy die dag oudergewoonte gedramatiseer hoe die reënbui suutjies aangekruip kom soos ‘n vrou, van die hoogte aftrap, en dan haar kombers wyd sprei, wyd, so, wyd, wyd! … en toe vlieg die verseboek uit haar hand en tref byna vir arme Ronel Loubser teen die kop. Sy’t net betyds oor haar notas weggebuk of sy was bleddie disnis getref deur die poësie. O, die dans van ons suster, juffrou Magdul.

Dis vandag nog een van my gunsteling gedigte.

1964 – Skulpie teen die oor, Johanna Schutte met prentjies van Michael Roos

Een van die heel eerste kinderstories wat ek ooit gehoor het is hierdie klein pêreltjie uit die see. Dis ‘n versameling storietjies van obskure karakters wat in die see lewe, soos Snoeitjie Snoek, Seekat Seervat, en Dril-Dril die jellievis. Voor in die boek staan ‘n tannie van my se naam, Hester Muller, my Ma se niggie. Sy het dit in 1967 as ‘n boekprys vir ‘getrouheid in die sondagskool’ gekry. Oupa Lieb het dié boek omtrent stukkend gelees terwyl ons spul kleinkinders op sy skoot en langs sy stoel geginnegaap het. Hy’t al die stemme gemaak en elke nou en dan oor sy bril vir ons geloer om te kyk of ons nog luister as hy by ‘n belangrike deel kom. Ek het aan sy lippe gehang.

Ek dink dis daar, op Oupa Lieb se skoot, en onder die see, waar ek my liefde vir stories aangeleer het. Die skulpie is nou nog teen my oor.

1974 – Verhale van die Veld, oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar met illustrasies deur Dorothy Hill.

My oudste broer, Ruan, het hierdie boek as ‘n boekprys vir Beste Prestasie in 1981 aan die Laerskool Westwood verower. Hy’t elke jaar omtrent die laerskooltjie uit al wat beker en boek is gepresteer. Voorin is die ou sertifikaatjie nog netjies ingeplak en alles.

Dis ‘n wonderlike versameling eg Suid-Afrikaanse veldstories en fabels, van ‘Die goggas kies ‘n koning’, tot ‘Die hamerkop en die paddas’. Dis ook een van die heel eerste boeke wat ek self leer lees het, uitgegee in dieselfde jaar toe ek gebore is.

Ek is nog altyd ‘n buitelugmens. Om lang ente in die veld, of in die berge, of langs die strand te gaan stap is vir my soos meditasie. Dis wanneer ek die meeste voel ek is hier, in hierdie land wat so deel is van my soos die verhale van haar veld. Hier beteken ek tog iets. My oudste boeke het my al lankal voorspel.

2 thoughts on “6 boeke voor ek hier was en wat hulle van my voorspel

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s